22 Februarie 2012 – Onrus in die kerk

In ons dae beleef ons onrus en skerp verskil van mening veral in een van die vier Afrikaanse kerke. Dit is op die oomblik grotendeels in die Hervormde Kerk waar die verskille spanning en groepvorming tot gevolg het. As die verskille aangedui moet word, dan kan miskien in die eerste plek verwys word na die geskil oor hoe die Bybel verstaan moet word. Volgens die leer van die Kerk is die Bybel die gesaghebbende Woord van God. Daarteenoor word nou gestel dat die Bybel slegs menslike woorde oor God is en dus nie so gesaghebbend is nie. Dit bring die hele vraag na vore wat die bron van die waarheid dan is.

Dit het veral betrekking op die vraag wat dan na vore kom of Jesus Christus God en die ewige Seun van God is of slegs ‘n Wysheidsleraar uit die ou tyd is, soos die sogenaamde Tomas-evangelie suggereer. Daarby is daar ook onrus oor opvattings wat rondgestrooi word en twyfel wek of Jesus uit ‘n maagd gebore is, soos die geloofsbelydenis dit stel. Daarby word vertel dat Josef, die vader van Jesus volgens die Bybelse evangelies, nie veel meer as ‘n versinsel is nie. Vraagtekens word ook getrek oor die opstanding van Jesus asof dit “onmoontlik” sou wees en dat daar nie iets soos ‘n leë graf in.Jerusalem kan wees nie.

Verdeeldheid word verder aangevuur deur nuwe pogings om aansluiting te soek by die Engelspratende ”ekumeniese wêreld” van die Wêreldraad van Kerke en sy lede wat venynige Afrikaner-haters huisves. Hierdie poging om deel van die ekumeniese wêreld te word, het meegebring dat die Algemene Kerkvergadering van die Kerk verklaar het dat “apartheid in stryd is en was met die Evangelie van Jesus Christus en, onder andere, gebaseer was op die idee van onderlinge onversoenlikheid”. Deur dit te verklaar sou gIo die waardering van die ekumeniese wêreld verdien en dit moontlik maak om die Hervormde Kerk in hulle geledere op te neem.

Hierdie betrokkenheid by die ekumeniese wêreld is so belangrik geag deur die meerderheid op die Algemene Kerkvergadering dat daar toe maar ‘n streep getrek is deur die Kerk se geskiedenis en opvattings oor volkereverhoudings vanaf 1853.
Dit het in die Kerk self heelwat onrus en spanning geskep. Dit is ook nie vreemd dat daar nou groep-vorming plaasgevind het nie. Dit is nog nie duidelik of daar ‘n moontlikheid is om die twee teenoorgestelde standpunte te akkommodeer volgens die “eenheid-in-verdeeldheid”-beginsel nie.

Dit lyk egter nie of dit so maklik is nie, aangesien die meerderheid slegs eise stel dat die minderheid moet konformeer of padgee. Of die probleem langs daardie weg opgelos sal word, is ‘n ope vraag. Gewoonlik is dit so dat beleid nie noodwendig tot die uiteengaan van kerklike groeperinge lei nie. Maar die nogal vreemde opvattings wat sommige Bybelwetenskaplikes oor die Bybel en oor Jesus Christus koester, kan moontlik onoorkomelike struikelblokke beteken. Die tyd sal leer.

Comments are closed, but trackbacks and pingbacks are open.